DA dien petisie in by die parlement wat vra vir ingryping in Tswaing se 100-dae waterkrisis

Issued by Carin Visser LP – DA Kiesafdelingshoof, Tswaing plaaslike munisipaliteit
26 Oct 2023 in Press Statements

Nota aan omroepers: Vind asseblief die gekoppelde klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Carin Visser LP.

Die DA het vandag ‘n petisie by die parlement ingedien waarin daar gevra word vir dringende ingryping in die 100 dae lange Tswaing-waterkrisis. Die krane loop droog in die gemeenskappe van Delareyville, RDP, Matsella Pad en Sentomule. Die Ngaka Modiri Molema distriksmunisipaliteit en Tswaing plaaslike munisipaliteit kon en wou nie die voorsiening van skoon en veilige water aan inwoners in dié dorp verseker nie.

Ons petisie is deur 483 geraakte inwoners onderteken.

Slegs ‘n enkele boorgat, uit 14, is tans in werking en moet water aan meer as 40 000 inwoners in Tswaing verskaf.

Die Geysdorp-pypleidingprojek, wat in 2014 deur die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit voltooi is, was veronderstel om vir baie jare lank water aan die Delareyville-reservoir te verskaf, maar ongelukkig is die pypleiding onderworpe aan voortdurende barste en lekkasies weens swak vakmanskap.

Die DA en inwoners rapporteer daagliks lekkasies langs hierdie pypleiding aan beide die Ngaka Modiri Molema- en Tswaing-munisipaliteit, maar daar is geen kapasiteit by enige van die munisipaliteite om doeltreffend te reageer om hierdie pypleiding in stand te hou en te herstel nie.

Ons het weer aan die Ngaka Modiri Molema uitvoerende burgemeester, rdl. Khumalo Molefe, en die munisipale bestuurder, Alan Losaba, geskryf vir onmiddellike ingryping om die lekkasies- en watertoevoer aan inwoners te herstel. Sien brief hier.

Die huidige lekkasie is so erg dat dit ‘n boer se lande oorstroom het en dit met kalsiumhidroksied besoedel het.

Ons is deur die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit ingelig dat hulle aan toerustingtekorte ly en nie die nodige pype of klampe het om die nodige herstelwerk te bring nie.

Die onvermoë van beide die Ngaka Modiri Molema- en Tswaing-munisipaliteit om skoon water aan inwoners te verskaf, is ‘n skending van die grondwetlike reg om toegang tot skoon en veilige water te geniet. Ons sal ook hierdie aangeleentheid aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rapporteer.

Ons kyk nou na die parlement vir hulp om ‘n nasionale ingryping te dwing vir ‘n permanente oplossing vir hierdie krisis wat die ANC regering ontwerp het.