DA vra vir spesiale raadsvergadering om Rustenburg van vandalisme van elektriese infrastruktuur te red

Issued by Rdl. Luan Snyders – DA-raadslid, Rustenburg-plaaslike munisipaliteit
15 May 2024 in Press Statements

Nota aan uitsaaiers: Vind asseblief ‘n gekoppelde klankgreep in Afrikaans deur rdl. Luan Snyders.

Die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit worstel tans met ‘n ernstige krisis van vandalisme wat kritieke elektriese infrastruktuur teiken, veral substasies en mini substasies. Die onlangse sabotasie was van die Noord- en Munic-substasies; hierdie vernietigende neiging het gelei tot wydverspreide kragonderbrekings regoor Rustenburg en hou ‘n wesenlike bedreiging in vir die noodsaaklike dienste waarop die gemeenskap staatmaak.

Honderde mini-substasies en kragbokse regoor Rustenburg is gevandaliseer. Slotte word gebreek, deure word verwyder en die transformatorolie word gesteel. Die diefstal van klein stukkies kabel, brekers en skrootmetaal het algemeen geword. Die munisipaliteit sukkel om hierdie kwessie doeltreffend te bestuur weens beperkte hulpbronne en mannekrag.

Die DA het aan Speaker L. Pule geskryf en versoek dat ‘n spesiale raadsvergadering geroep- en ‘n omvattende verslag aan die raad voorgelê word. Hierdie verslag moet besonderhede insluit oor die totale aantal gevandaliseerde substasies, sake wat by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld is, finansiële koste wat aangegaan is, veiligheidsverbeterings wat beplan is, en moontlike onderliggende oorsake van die vandalisme-oplewing insluit. Sien brief hier.

Terwyl tydelike oplossings soos sweisdeure geïmplementeer is, het dit gelei tot onbedoelde gevolge soos probleme met meterlesings en instandhouding tydens kragonderbrekings. Gesprekke oor hierdie aangeleentheid is gevoer met sleutelbelanghebbendes, insluitend die uitvoerende burgemeester, rdl. Shiela Mabale-Huma, munisipale bestuurder, adv. Ashmar Khuduge, en ander senior bestuurders, om die uitdagings wat in die gesig gestaar word, aan te spreek.

Daar moet onmiddellik opgetree word om die elektriese infrastruktuur te beveilig en ononderbroke dienslewering aan die gemeenskap te verseker.

Ons doen ‘n beroep op inwoners se samewerking om enige verdagte aktiwiteite aan te meld en versoek owerhede op alle vlakke om hierdie landwye kwessie aan te spreek. Vandalisme van kritieke infrastruktuur is nie net ‘n plaaslike probleem nie, maar ‘n groeiende probleem wat gemeenskappe regoor die land raak.

Gelukkig sal inwoners op 29 Mei vanjaar die geleentheid kry om ’n DA-regering in te stem, die enigste party met ’n bewese rekord van die prioritisering van dienslewering aan gemeenskappe.