Tswaing se ANC-raadslede geniet luukse uitstappie terwyl munisipaliteit bankrotskap in die oë staar

Issued by Rdl. Soret Viljoen – DA-koukusleier, Tswaing-plaaslike munisipaliteit
22 Feb 2024 in Press Statements

Nota aan uitsaaiers: Vind asseblief die gekoppelde klankgrepe in Engels en Afrikaans deur rdl. Soret Viljoen.

Die DA in die Tswaing-plaaslike munisipaliteit sal nie ’n luukse belastingbetaler-gefinansierde uitstappie ter waarde van honderde duisende rande in Hartebeesfontein bywoon nie.

Ons vind die ANC-geleide munisipaliteit se besluit om ’n beleidskonferensie buite die munisipaliteit te reël ’n totale misbruik van openbare hulpbronne.

Dit is ongeloofwaardig dat die ANC geld kan vind om luukse etes te geniet terwyl Tswaing in erge finansiële nood verkeer. Die Tswaing munisipale gebou en die raadsaal kan maklik ’n beleidskonferensie teen ’n fraksie van die koste huisves.

Ons het aan die Tswaing-speaker, Sam Letlakane, ’n skrywe gerig dat ons hierdie konferensie as verkwistende uitgawe beskou en dat ons dit glad nie sal bywoon nie. Ons het ook aan die Noordwes LUR van Finansies, Motlalepula Ziphora Rosho, geskryf en haar onmiddellike ingryping versoek in Tswaing se voortgesette finansiële wanbestuur en die doelbewuste vermorsing van fondse.

Tswaing was in Augustus 2021 onder artikel 139(5) administrasie geplaas. Die raad was toe twee maande voor die plaaslike verkiesing in 2021 deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini Zuma, ontbind. Hierdie ingryping het geen positiewe impak gehad nie aangesien die ANC weer aan bewind gekom het net om met hulle stroping voort te gaan.

Tswaing word tans deur die provinsiale tesourie ondersteun in ’n poging om die munisipaliteit se finansiële posisie te verbeter. Ten spyte hiervan, blyk dit steeds of die ANC-regering nie die erns van die situasie verstaan nie en spandeer geld aan luukse uitstappies terwyl inwoners nie water in hul krane het.

Tswaing skuld Eskom R177 miljoen. Agterstallige pensioenfondsbydraes beloop sowat R100 miljoen. Die munisipale bestuurder, Deon Mere, het Dinsdag, 20 Februarie 2024, ’n amptelike kennisgewing uitgereik wat lees dat die munisipaliteit nie Februarie se salarisse sal kan betaal nie en dat dit eers teen 7 Maart 2024 betaal kan word. Sien kennisgewing hier.

Dienslewering in die munisipaliteit stort in duie weens ’n tekort aan fondse. Straatligte in Delareyville, Ottosdal en Sannieshof is al vir jare stukkend en slaggate jaag inwoners derduisende rande uit die sak vir herstelwerk aan hulle voertuie. Die elektrisiteitsnetwerk is oud en vervalle en inwoners gaan gereeld gebuk onder lang kragonderbrekings.

Die Henk Joubert-natuurreservaat, wat aan die munisipaliteit behoort en ’n verskeidenheid van wild soos sebras, swartwildebeeste en springbokke huisves, is glad nie omhein nie, want die munisipaliteit het nie die nodige befondsing nie.

Kortliks, terwyl die munisipaliteit rondom elke inwoner in duie stort, wil ANC-kaders met belastingbetalers se geld gaan vakansie hou. Gelukkig is dit ’n verkiesingsjaar en Tswaing-inwoners sal hul minagting vir die ANC kan wys deur DA op 29 Mei 2024 te stem, want ’n DA-regering sal dienste lewer en nooit geld op hierdie manier vermors nie.