Gebrek aan instandhouding van JB Marks pompstasie veroorsaak konstante rioolstorting

Issued by Rdl. Heinricha Hodgson – DA Raadslid: JB Marks Plaaslike Munisipaliteit
24 Oct 2022 in Press Statements

Nota aan Redaksie: Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep in Afrikaans deur Rdl. Heinricha Hodgson.

Die DA het verlede week ‘n oorsigbesoek aan die Bothastraat-rioolpompstasie gebring, waar ons ontdek het dat net een van die drie pompe is in werking en dat daar ‘n lek is wat verhoed dat die rugsteunkragopwekker outomaties aanskakel wanneer beurtkrag begin, wat lei tot ‘n oorloop van rou riool.

Die swak onderhoude Bothastraat-rioolpompstasie, op die hoek van Govan Mbeki- en Chris Hanistraat, is die oorsaak van die rou rioolstorting, wat groot gebiede aan die buitewyke van Potchefstroom, Miederpark, die gholfbaan, die OPM Prozesky Bird Sanctuary, vleilande, plase en kleinhoewes stroomaf van die Mooirivier besoedel.

Die DA sal aan die Munisipale Bestuurder, Sandile Tyatya, en Uitvoerende Burgemeester, Cllr Gaba Thithiba Ka Qhele, skryf en hulle versoek om onmiddellik die stukkende twee pompe te herstel en om die nodige onderdele te koop om tegnici in staat te stel om herstelwerk aan die lekkende pompstasie te bring.

Sedert 2020, toe rou rioolstortings toenemend ‘n probleem geword het, het die DA twee strafregtelike klagte by die SAPD teen die munisipaliteit aanhangig gemaak, maar tot op hede is nog geen vordering oor die saak bekend gemaak nie.

‘n Groot deel van die Grimbeeck-suiwelplaas word deur rou riool oorstroom. Dit lei tot bykomende finansiële koste om parasietbeheer en die behandeling van siektes te verseker by beeste wat besmet is deur die besoedelde water te drink.

Die natuurlike voël- en dierelewe word ook negatief beïnvloed waar dooie voëls gereeld in die vleiland gevind word.

Sou die Munisipale Bestuurder en Burgemeester weier om in te gryp en nie die situasie by die pompstasie reg stel en begin om die besoedelde gebiede te rehabiliteer nie, sal ons dit by die Groen Skerpioene aanmeld.