Bankrot Dr Ruth Segomotsi Mompati DM wil geld spandeer op ‘n Raadswerkswinkel in Hartbeespoort

Issued by Coenrad Herbst – DA Raadslid: Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit
22 Sep 2022 in Press Statements

Nota aan redaksie: Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep in Afrikaans deur Raadslid Coenrad Herbst.

Die DA in die Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit (DRSM) het beswaar gemaak teen ‘n beplande Raadswerkswinkel by die Hartbeestpoortdam, 400km buite die munisipaliteit om beleide en strukture te hersien.

Hierdie werkswinkel is niks anders as ‘n luukse wegbreek met kostes wat tienduisende rande kan beloop, geld wat veronderstel is om aangewend te moet word vir die verbetering in die verskaf van skoon water aan gemeenskappe.

Die DRSM Distriksmunisipaliteit was voorheen onder ‘n artikel 139(5) finansiële administrasie weens sy onvermoë om aan sy grondwetlike mandaat te voldoen in die verskaffing van grootmaat water- en sanitasiedienste aan plaaslike munisipaliteite.

Dit is verstommend dat die ANC-beheerde DRSM Distriksmunisipaliteit te gretig is om geld in hul eie belang te bestee eerder as om mense se lewens te verbeter.

Ons het ook aan die LUR van COGHSTA, Lenah Miga, die Noordwes Premier, Bushy Maape, en die LUR vir Finansies, Motlalepula Rosho, geskryf en hulle versoek om hierdie selfsugtige en verkwistende beplande uitgawe stop te sit. Daar is meer as genoeg geskikte lokale binne die Distrikskantore om hierdie werkswinkel aan te bied.

Dit is heeltemal onaanvaarbaar vir die munisipaliteit om geld aan reis, verblyf en spyseniering te bestee terwyl inwoners regoor die distrik daaglikse watertoevoeronderbrekings beleef en rou riool wat vrylik in strate afvloei.

Die DA sal aanhou om in die Raad te veg vir die verbetering van water- en sanitasiedienste en sal nie deelneem aan die ANC-beheerde DRSM-misbruik van belastingbetalersgeld nie.