DA eis dat Maquassi Hills onder Artikel 139 (5) (a) administrasie geplaas word

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
27 May 2022 in Press Statements

Nota aan Redaksie: Vind asseblief ‘n klankgreep in Afrikaans deur Leon Basson LP.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal vandag aan Premier Bushy Maape, die LUR vir Finansies, Motlalepula Rosho, en die LUR vir Plasslike Regering, Lenah Miga, skryf om onmiddellik met die proses te begin om die Maquassi Hills Plaaslike Munisipaliteit onder Artikel 139 (5)(a) van die Grondwet te plaas.

Dit volg ná ons openbare vergadering vanoggend in Wolmaransstad waar ons inwoners betrek het oor meganismes tot ons beskikking om stabiliteit in die munisipaliteit te bring. Die DA het ’n mandaat van die gemeenskap ontvang om voort te gaan met die eis om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Sien fotos hier, hier en hier.

Die gemeenskap het ons betrek oor die totale ineenstorting van bestuur, die volledige stop van dienslewering, spesifiek water- en elektrisiteitsvoorsiening, vullisverwydering, sanitasiedienste en die instandhouding van paaie.

Sedert die verkiesing in November verlede jaar was daar geen poging deur die ANC-regering onder die mislukte leierskap van burgemeester Mzwandile Feliti om bestuur en dienslewering in Maquassi Hills te herstel nie.

Maquassi Hills is in erge finansiële nood. Hy skuld Sedibeng Water R254 miljoen, Eskom R33 miljoen en ‘n krediteureboek ter waarde van meer as R60 miljoen. Die munisipaliteit het hierdie maand versuim om salarisse te betaal. Die salarisrekening oorskry die befondsing met R1 miljoen per maand, altesaam R7,8 miljoen vir 280 amptenare.

Die Artikel 139 (5)(a) bemagtig die Provinsiale Tesourie om die verantwoordelikheid van die munisipaliteit se geldsake heeltemal te aanvaar, om ‘n finansiële herstelplan voor te berei en dit binne ‘n vasgestelde tydraamwerk te implementeer. Dit is die enigste ingryping met die wetgewende steun wat stabiliteit na Maquassi Hills kan bring.

Sou Provinsiale Tesourie misluk, moet Nasionale Tesourie ingryp, soos die geval was met die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit in Mpumalanga, na aanleiding van ‘n Hooggeregshofbevel verlede jaar, kragtens Artikel 139(7) van die Grondwet, saamgelees met Artikel 150 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).

Vir die laaste drie weke is inwoners van Maquassi Hills gyselaar gehou deur munisipale werknemers wat in ‘n politieke stryd met die ANC-regering betrokke is. Dit is absoluut onaanvaarbaar. Die ANC kan nie regeer nie en munisipale werknemers kan nie dienste lewer nie. Dit moet tot ‘n einde gebring word.

Die DA sal voortgaan om die mense van Maquassi Hills by te staan om stabiliteit in die munisipaliteit te bring. Maar uiteindelik, om die munisipaliteit te herbou, moet die gemeenskap agter die DA staan en die DA verkies om in hul belang te regeer.