DA verwelkom inhegtenisneming van vermeende moordenaars van Mareetsane SAPD-beamptes

Issued by Freddy Sonakile LPW – DA Noordwes Woordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid en Vervoer
29 Jul 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: Vind aangeheg klankgrepe in Engels deur DA Noordwes-woordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, Freddy Sonakile en Afrikaans deur DA Lid van die Provinsiale Wetgewer, Gavin Edwards

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes verwelkom die arrestasie van vyf verdagtes wat verbind is met die moord op twee polisiebeamptes van Mareetsane, Konstabel Simon Ntsekeletsa en Sersant Mojalefa Molete, nadat hulle lyke op 27 Julie in ‘n verbrande polisiewa gevind is.  

Ons bedank die Tlakgameng-boeregemeenskap wat die SAPD gehelp het deur ‘n helikopter-soektog te loods wat hulle na die voertuig gelei het waarin die twee beamptes Maandagaand vermis geraak het. Hulle het glo ‘n voertuig wat gelaai is met vermoedelik gesteelde bokke, gerapporteer tydens hul patrollie en is nie weer lewend gesien nie.  

Die verdagtes sal môre in die landdroshof in Ganyesa verskyn op aanklagte van moord, kwaadwillige saakbeskadiging en die besit van ‘n gesteelde vuurwapen. 

Hierdie moorde plaas weer die kollig op landelike veiligheid en die noodsaaklikheid om SAPD-eenhede wat uitsluitlik plaasaanvalle en veediefstal hanteer, weer in te stel.  

Die gevare waarmee landelike gemeenskappe te kampe het, is duidelik en dit regverdig die DA se sterk besware teen die wysiging van die wapenwetsontwerp. Om burgerlikes te ontwapen terwyl soveel onwettige vuurwapens onder misdadigers in omloop is, hou niks goed in nie en sal geen positiewe resultate lewer nie. 

Die DA betuig sy innige meegevoel met die families van die twee oorlede beamptes en sal hierdie hofsaak volg om te verseker dat geregtigheid geskied.