ANC-faksiegevegte in die Tswaing-munisipaliteit word gewelddadig

Issued by Raadslid Soret Viljoen – DA-raadslid: Tswaing Plaaslike Munisipaliteit
26 Jul 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA Raadslid in Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, Soret Viljoen.

Verlede week Donderdag het veiligheidswagte van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit op ‘n brief van die geskorste munisipale bestuurder, Isaac Moruti, opgetree wat hulle opdrag gegee het om die munisipaliteit te beskerm en waar ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU) in die proses deur hulle aangerand is.

Die lid van Samwu is deur minstens tien veiligheidswagte aangeval en het ernstige beserings aan sy kop opgedoen nadat hy met ‘n baksteen geslaan is. Hy is vir noodbehandeling na die Delareyville-kliniek vervoer en is later in die hospitaal opgeneem vir waarneming.

Gemeenskapslede in die omliggende omgewing het tydens die sage skote gehoor. Daar is glo op munisipale gronde in die lug geskiet.

Dit stel nie net die lewens van inwoners in gevaar nie, maar is onwettig ingevolge artikel 120 (7) van die Wet op die Beheer van Vuurwapens van 2000, wat bepaal dat dit ‘n oortreding is om ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied of enige openbare plek af te vuur, sonder goeie rede om so te doen.

Die sekuriteitsmaatskappy het laakbaar en gewelddadig opgetree en hulself toegelaat om betrokke te wees by die voortgesette binnegevegte van die ANC.

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal ‘n klag by die plaaslike SAPD indien waarin hulle versoek word om die voorval en die optrede van die veiligheidswagte vir die oortreding van die vuurwapenwet en hul gewelddadige gedrag, te ondersoek. Die SAPD moet toesien dat openbare veiligheid geprioritiseer word vir doeleindes van die wet, orde en openbare veiligheid.

Die voortslepende politieke faksionaliteit van die ANC het reeds alle vorme van dienslewering in duie laat stort toe die geskorste munisipale bestuurder ‘n hofbevel gekry het om die munisipaliteit se rekening te vries.

Hierdie rekening word gebruik om diesel te koop en te betaal vir onderhoud om die grondwetlike verpligtinge na te kom om te verseker dat inwoners toegang het tot basiese dienste waarvoor hulle betaal, soos water, sanitasie en elektrisiteit.

Die situasie in Tswaing is so haglik dat gemeenskapslede, plaaslike ondernemings en AfriForum diesel koop om water te pomp, vullis te verwyder en te betaal vir dringende instandhouding van munisipale infrastruktuur.

Rou riool loop in die strate van Delareyville, Sannieshof en Ottosdal, aangesien sanitasie-kontrakteurs hul dienste weens onbetaling onttrek het.

Die finansiële wanbestuur van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit het die instelling van ses grondwetlike ingrypings veroorsaak wat gelei het tot ‘n verdere verswakking van die bestuur en versuim om dienste te lewer wat hulle verplig is om te lewer.

Tswaing se amptenare moet verantwoordelik gehou word vir die sistemiese wanbestuur wat tot die ineenstorting van die munisipaliteit gelei het.

Daar moet ook ondersoek ingestel word na die skorsing van ‘n munisipale bestuurder wat die gemeenskappe van Tswaing gyselaar hou deur nie die dienste te lewer wat die munisipaliteit verplig is om te lewer nie.

Die Noordwes-provinsiale regering is deeglik bewus van die dreigende algehele ineenstorting van die regering in Tswaing, wat sedert 2007 aan die afneem is. Hierdie agteruitgang is hoofsaaklik weens die aanstelling van persone met politieke bande in sleutelposisies waarvoor hulle nie geskik is nie, wat toelaat dat sistemiese bedrog en korrupsie binne die administrasie voortduur en nie die gereguleerde wetgewing in die regering van Tswaing eerbiedig nie.

Die ANC stel nie daarin belang om te regeer nie en het ook nie daadwerklik opgetree om die munisipaliteit te herstel nie.

Die enigste manier om die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit wesenlik te verander, is dat mense die mislukte ANC-regering uitstem en ‘n DA-regering instem. Die DA is die enigste party met ‘n bewese rekord. Die top-vyf munisipaliteite wat die beste in Suid-Afrika presteer, word deur die DA bestuur.