DA eis Minister van Polisie moet ingryp ná nog ’n plaasaanval naby Brits

Issued by Carìn Visser LP – Hoof van DA Noordwes Hof Moniteringseenheid
06 May 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Hoof van DA Noordwes Hof Moniteringseenheid, Carín Visser.  

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes is ontsteld oor die aanval op Pier Schutte, ‘n boer van die Brits-omgewing. Hy is deur ‘n onbekende aantal aanvallers ingewag toe hy gister na sy beeste gaan omsien het. Twee skote is afgevuur, waarvan een deur sy rug langs sy long verby getrek het.   

Dit is nog nie bekend of enige items gesteel is nie en geen arrestasies is gemaak nie.  

Hy is na ‘n hospitaal in Johannesburg vervoer, waar hy tans in ‘n kritieke toestand is.  

Dit is die tweede aanval op Mnr. Schutte. Vroeër vanjaar het vier mans hom by sy plaashek ingewag. Skote is afgevuur, maar geen beserings is opgedoen nie en die mans het van die toneel gevlug.  

Dit is kommerwekkend dat die grootste persentasie plaasaanvalle in Noordwes in die Brits / Hartebeespoort-omgewing plaasvind. Daarom sal die DA aan die Minister van Polisie, Bheki Cele, skryf en sy dringende ingryping versoek.  

Dit is verder kommerwekkend dat meer wildplase nou geteiken word en dat hierdie neiging in die kiem gesmoor moet word, is nie altemit nie.  

Die onophoudelike terrorisering van boere en plaaswerkers hou ‘n ernstige bedreiging in vir voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping. As die ANC-regering wil voorkom dat meer boere die landbousektor verlaat, moet daar dringend opgetree word om die veiligheid van landelike gemeenskappe te verseker.  

Dit is geen geheim dat die SAPD nie oor genoegsame hulpbronne beskik nie en bloot nie toegerus is om landelike veiligheidskwessies te hanteer nie, en daarom vra ons weer dat die instelling van landelike veiligheidseenhede heringestel moet word.  

Die DA prys die boeregemeenskappe en patrolleerders dat hulle die leemte vul wat deur ‘n onbevoegde polisiediens gelaat word, en vra weer dat die regering plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad moet verklaar.  

Dit is kommerwekkend dat die agterstand by die SAPD se forensiese eenheid ook nog bydra tot die vertraging van strafregtelike sake, maar ons sal deur middel van ons hof moniteringseenheid die vordering van hierdie saak monitor om te verseker dat die reg geskied.