Nota aan die redaksie: Vind aangeheg klankgreep in Engels deur DA Noordwes-woordvoerder oor samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (COGHSTA), Freddy Sonakile.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal skriftelike vrae aan die LUR vir die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (COGHSTA), Mmoloki Cwaile, rig om die databasis waarop Munisipale Administrateurs verskyn, aan te vra.
Dit volg nadat Mnr Gobakwang Moatshe onlangs as Administrateur van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit aangestel is, ondanks die feit dat hy in 2018 in ‘n verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), betrek is.
Die verslag oor Noordwes-munisipaliteite wat ingevolge proklamasie nr. R72 van 2008 uitgereik is, het Mnr Moatshe betrek by die onreëlmatige aanstelling van amptenare, wanadministrasie, nepotisme, vrugtelose en verkwistende uitgawes, ongemagtigde uitgawes en die nie-nakoming van raadsbesluite. Hy was destyds die munisipale bestuurder van Moses Kotane Plaaslike Munisipaliteit.
Alhoewel die DA dit eens is dat die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, soos die meeste munisipaliteite in Noordwes, in ‘n mislukte toestand verkeer en ingryping benodig, vererger Administrateurs met ‘n geskiedenis van wanadministrasie en politieke bande bloot die huidige vervalle toestand waarin munisipaliteite verkeer.
In September 2019 het die DA ‘n mondelinge vraag aan Premier Mokgoro gestel oor die keuringsproses en die aanstelling van Administrateurs tydens ‘n sitting in die Noordwes Provinsiale Wetgewer waarop hy geantwoord het dat die Departement van COGHSTA gebruik maak van ‘n “databasis van professionele persone en kundiges in verskillende velde wat aangestel word na ‘n deeglike keuringsproses.”
Die DA is van mening dat dit in die publiek se belang is dat hierdie databasis bekend gemaak word. As die proses om hierdie Administrateurs te kies inderdaad so ‘deeglik’ is soos aangedui deur premier Mokgoro, moet die LUR verduidelik hoe individue soos Mnr Moatshe vir die pos gekwalifiseer het.
Die rampspoedige toestand van Noordwes-munisipaliteite kan nie meer geïgnoreer word nie en solank ANC-faksionaliteit, kaderontplooiing en finansiële wangedrag ongemerk gelaat word, sal die skaamtelose skending van burgers se basiese menseregte voortgaan.
Burgers van Noordwes kan op 27 Oktober 2021 hul demokratiese reg uitoefen om die mislukte regeringstelsel van die ANC te beëindig en vir ‘n DA-regering te stem wat goeie bestuur en gehalte dienslewering aan almal sal verseker, soos ons ook in DA-bestuurde munisipaliteite in die Wes-Kaap en in Midvaal in Gauteng bewys het.