DA doen beroep op Noordwes-regering om te verseker dat wet en orde tydens EFF-protes gehandhaaf word

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
17 Mar 2023 in Press Statements

Nota aan Redakteurs: Vind asb. aangehegde klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Leon Basson LP.

Die DA in Noordwes wil graag inwoners regoor die provinsie verseker dat ons sal vasstaan, en dat ons alles in ons vermoë sal doen, en elke meganisme tot ons beskikking gebruik om te verseker dat die Noordwes Provinsiale Regering wet en orde sal handhaaf tydens die EFF se kleinlike betoging volgende Maandag.

Elke DA Noordwes Parlementslid, die lede in die Provinsiale Wetgewer en alle Raadslede sal gereed wees om enige voorvalle wat die lewens, lewensbestaan, en eiendom van inwoners kan bedreig, aan te spreek en te eskaleer. Ons is beskikbaar en sal oop kommunikasielyne met inwoners, die SAPD, die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl Sello Kwena, die Noordwes LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sello Lehari, en Premier Bushy Maape handhaaf.

Die EFF in Noordwes het nie ingevolge die Wet op Byeenkomste of enige van die toepaslike verordeninge, in enige munisipaliteit aansoek gedoen om Maandag te betoog nie, maar tog het hulle die tyd en die hulpbronne gevind om briewe van intimidasie aan besighede regoor die provinsie te stuur. Die DA het reeds regstappe geneem teen die EFF om sy onwettige protesoptrede te verbied.

Die geweld-belaaide retoriek deur EFF-lede het geen plek in ‘n grondwetlike demokrasie nie. Dit poog om geweld, vernietiging, en chaos aan te wakker terwyl hulle hulself van enige verantwoordelikheid en aanspreeklikheid onthef. Hierdie gedrag is uiters onverantwoordelik en is bestem om te misluk .

Die ANC het oor die afgelope 25 jaar daarin geslaag om die ekonomie te vernietig, werkloosheid te verhoog, armoede te verskans, en ongelykheid te vergroot. Terwyl die EFF se protesaksie die bedanking van president Cyril Ramaphosa beoog, is hulle terselfdertyd in onderhandeling met die ANC oor die regeer van metro’s in Gauteng en ander munisipaliteite regoor die land.

Die EFF is vasbeslote om ‘n vuur aan te steek deur die uitbuiting van mense se desperaatheid. Dit is fascistiese en populistiese politiek wat net in ellende kan eindig. Die EFF sal goed doen om sy benadering te heroorweeg, want, soos die spreekwoord lui, “die rewolusie sal sy kinders op eet.”

Julius Malema het vandeesweek by ‘n perskonferensie beweer dat die protesaksie “vreedsaam” sou wees en dat die EFF “geen geskiedenis van geweld het nie”. Dit is alles leuens. Die EFF het oor die laaste paar jaar intimidasie en geweld teen geïdentifiseerde teikens toegepas. Sommige Clicks-, Vodacom- en H&M-winkels is deur EFF-boewe geplunder, gevandaliseer, en selfs met petrol gebom.

Dit is om hierdie rede dat die DA aksie geneem het. Gister het die DA-koukusleier in die Noordwes-wetgewer aan Premier Maape en Sello Lehari, LUR vir Gemeenskapsveiligheid geskryf en inligting aangevra oor die maatreëls wat die provinsiale regering en die SAPD getref het om te verseker dat wet en orde Maandag gehandhaaf sal word, en dat enige oortredings vinnig hanteer word. Betogers wat intimideer en/of tot geweld wend, moet gearresteer en vervolg word.

Terwyl ons die vreesaanhitsers van die EFF verwerp, bly ons waaksaam en doen ’n beroep op inwoners en gemeenskapspolisiëringsforums om dieselfde te doen. Enige voorvalle wat die lewens, lewensbestaan of eiendom van enige persoon kan bedreig, moet by die SAPD aangemeld word vir onmiddellike optrede.

Die DA sal verwikkelinge fyn dophou oor die langnaweek en ons sal die SAPD en regering verantwoordelik hou vir die handhawing van die basiese menseregte, veiligheid en sekuriteit van Noordwes-inwoners soos vasgelê in die Grondwet.

Ons het nie ‘n nasionale stilstand nodig wat deur fascistiese speelgoedsoldate veroorsaak word nie. Ons het volgende jaar ‘n verkiesing, en dit is by die stembus waar inwoners hul ontevredenheid met die ANC kan registreer deur vir ‘n DA-geleide nasionale regering te stem. Dit is wat demokrasie is en kom ons gebruik dit.