Nota aan uitsaaiers: Vind gekoppelde klankgreep in Afrikaans deur Rdl. Bertus le Roux.
Die DA in die JB Marks Munisipaliteit spreek ons ontevredenheid uit oor die afwesigheid van die uitvoerende burgemeester, Rdl. Gaba Thithiba Ka Qhele, wat nie gisteraand die vergadering oor die Geïntegreerde Ontwikkelingsprogram (GOP) by die Madiba-banketsaal in Potchefstroom bygewoon het nie.
Hierdie GOP openbare vergadering is van kardinale belang vir publieke betrokkenheid om insette oor dienslewering en infrastruktuurontwikkelingsbehoeftes van inwoners en sakebelanghebbendes te verkry vir die oorweging van befondsing in die begroting vir die volgende finansiële jaar.
Burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele het ‘n statutêre verpligting om die GOP-openbaredeelname-verrigtinge te voer, maar slegs ‘n paar munisipale amptenare was by die openbare vergadering, waar ongeveer 200 inwoners van 11 JB Marks-wyke byeengekom het om aan die GOP-proses deel te neem, teenwoordig.
Munisipale amptenare het die DA versoek om aan inwoners te verduidelik dat burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele dit nie sal bywoon nie en dat slegs die burgemeester die verrigtinge kan lei.
Verskeie inwoners het hul frustrasie oor die afwesigheid van burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele uitgespreek en dit as skandelik en oneerbiedig beskryf. Daar was konsensus onder inwoners teenwoordig dat die GOP-vergadering nie in die afwesigheid van die burgemeester kan voortgaan nie en dat nie eers die waarnemende munisipale bestuurder die vergadering kon lei nie. Daar is ooreengekom om die vergadering uit te stel en maatreëls te tref om te verseker dat die burgemeester die volgende vergadering sal bywoon.
Die DA gaan die ontevredenheid van inwoners aan burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele oordra sowel as hul frustrasie met swak dienslewering, ondoeltreffende inbelsentrumbedrywighede, en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid deur homself, sy Burgemeesterskomitee, en die administrasie van die munisipaliteit.
Boonop het die GOP-verslag wat gister met inwoners gedeel is,talle onakkuraathede bevat en is versoeke wat ‘n jaar gelede, tydens die vorige GOP openbare deelnameproses ingedien is, nie in die verslag opgeneem nie.
Die DA dring daarop aan dat die burgemeester verseker dat die korrekte GOP-verslag betyds aan inwoners beskikbaar gestel moet word om inwoners genoeg tyd te gee om dit te bestudeer en vir die uitgestelde GOP-vergadering voor te berei.
Die DA bedank graag elke inwoner wat gisteraand bygewoon het. Dit is bemoedigend om te sien dat meer inwoners bereid is om aan hierdie belangrike openbare verbintenisse deel te neem, tot voordeel van die hele gemeenskap.