ANC-lede moet interne faksiegevegte na Luthuli-huis neem en nie na die strate van Lichtenburg nie

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
01 Oct 2021 in Press Statements

Nota aan redakteurs: Vind aangeheg ’n klankgreep in Afrikaans deur Leon Basson LP, DA Noordwes Provinsiale Leier.

Ontevrede ANC-lede in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit het die strate ingevaar om hul interne faksiegevegte voort te sit oor hul voorkeurkandidate op die lyste wat aan die OVK voorgelê is.

Hierdie interne onrus in die ANC het gelei tot die dood van ‘n ANC-lid wat deur die polisie geskiet is nadat hy na bewering ‘n ongelisensieerde vuurwapen met lewendige ammunisie rondgeswaai het.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes veroordeel ten sterkste die militante mobilisering van ANC-faksies onder die dekmantel van gemeenskapsbetogings. Ongelukkig het die media ook die onrus die afgelope paar dae as gemeenskapsbetogings voorgelê. Dit is blatant vals.

Hierdie onrus is niks anders as strydende ANC-faksies wat veg vir die plasing van hul voorkeurkandidate op Wyk en PR lyste.

Ontevrede ANC-lede moet die griewe na hul party neem in Luthuli-huis.

Die gemeenskap van Ditsobotla stel geensins belang in interne faksiegevegte van die ANC nie. Inwoners moes al jare lank die totale ineenstorting van dienslewering en bestuur verduur terwyl die twee groot ANC-faksies ‘n mag stryd voer.

Selfs nou beweer twee ANC-kaders dat hulle die wettige burgemeester van die munisipaliteit is. Terwyl hierdie interne gevegte voortduur, bly die ANC se provinsiale en nasionale leierskap magteloos om die orde binne hul eie geledere te handhaaf.

Hierdie interne dinamika van die ANC dien as bewys dat party dissipline heeltemal in duie gestort het.

Soos ‘n parasiet het die ANC die Ditsobotla Munisipaliteit drooggesuig van enige vorm van hulpbronne en bestuur. Die munisipaliteit is vrot van korrupsie, bedrog en diefstal, met min of geen voordeel van dienslewering aan inwoners nie. Dit is betreurenswaardig dat inwoners nou deur hierdie ANC-onrus verder gyselaar gehou moet word.

Die mense van Ditsobotla het die geleentheid om ‘n einde te maak aan hierdie korrupte bestuur van die ANC deur op 1 November 2021 vir die DA te stem. Saam sal die DA, met die gemeenskap se ondersteuning, goeie bestuur en dienslewering herstel om die munisipaliteit te rehabiliteer van dekades van wanbestuur aan die hand van die ANC. Net die DA in regering kry dinge gedoen, en daar is baie om te doen in Ditsobotla.