Nota aan die redaksie: Vind aangeheg die klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA-raadslid, Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit, Jan Brand.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Dr. Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit neem kennis van die bedanking van Lorato Setlhale as Speaker, maar is van mening dat haar bedanking geen verandering in die munisipaliteit sal meebring nie, want hierdie is net nog ‘n voorbeeld van ANC-faksionalisme wat homself uitspeel.
Raadslid Setlhale het verlede Vrydag haar bedanking as Speaker ingedien en is vervang deur Elvis Takganyane tydens ‘n Spesiale Raadsvergadering wat vroeër vandeesweek gehou is.
Die bedanking van die Speaker kort ná die verwydering van Boitumelo Mahlangu is geen verrassing nie aangesien die twee waarskynlik aan dieselfde faksie behoort.
Haar plaasvervanger, Kgalalelo Sereko, sal ook nie ‘n positiewe impak hê op die vermoë van die Distriksmunisipaliteit om sy finansies in orde te kry en dienslewering te verbeter nie, aangesien sy aanstelling deel vorm van die ANC-faksies wat politieke speletjies speel ten koste van die inwoners van die distrik.
Die provinsiale regering het aangedui dat hy die distrik onder Artikel 139 (1) van die Grondwet wil plaas vir provinsiale ingryping. Dit het Maandag tydens ‘n Spesiale Raadsvergadering aan die lig gekom. Daar is nog ‘n vergadering met die LUR van Samewerkende Regering, Mmoloki Cwaile, oor hierdie kwessie geskeduleer.
Dit is duidelik dat die ANC opgevang is in hul stryd om posisies en nie meer daarin belangstel om dienste te lewer nie. Die inwoners van die distrik verdien egter ‘n regering wat hul behoeftes eerste sal stel deur die dienste te lewer waarop hulle konstitusioneel geregtig is.
Op 27 Oktober 2021 kan die inwoners ‘n einde aan hierdie korrupte regering maak deur ‘n DA-regering te verkies wat dienslewering ‘n prioriteit maak.
Die feit dat die meeste goed bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika deur die DA bestuur word, bewys dat die DA dinge gedoen kry.