DA in Noordwes stel eenheid aan om sake oor landelike veiligheid te monitor

Issued by Jacqueline Theologo LPW – DA Noordwes Hoof van Hof Moniteringseenheid
03 Aug 2020 in Press Statements

Opmerking aan redakteurs: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA Noordwes-woordvoerder oor Landbou en Landelike Ontwikkeling, Jacqueline Theologo.  

Die Demokratiese Alliansie (DA) stel vandag sy provinsiale hof-moniteringseenheid in Noordwes bekend om die slagoffers en gesinne van slagoffers van plaasaanvalle by te staan ​​deur te verseker dat die aanvallers agter tralies beland.  

Die situasie in ons landelike gebiede is nou op ‘n krisispunt, met ‘n skerp toename in brutale aanvalle en moorde in Junie en Julie. Die afgryslike trippelmoord wat in Hartswater plaasgevind het, waarvan die liggame in Taung gevind is, het die boeregemeenskap landwyd geruk. Betogende boere en plaaswerkers het Donderdag die paaie vol gestaan toe die vyf verdagtes hul eerste hofverskyning gemaak het.   

Ondanks hierdie sukses deur die SAPD, wat skynbaar vir die eerste keer so ‘n “Rolls-Royce”-operasie uitgevoer het wat tot die vyf inhegtenisnemings gelei het, sê die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Advokaat Shamila Batohi, dat die strafregstelsel toenemende misdaad en uiters lae vervolgingskoerse in die gesig staar. Die skandelike vervolgingskoers van slegs 2% vir ernstige misdrywe, getuig daarvan.  

Die hof moniteringsinisiatief is deur die Departement van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap gelei om op te tree in ooreenstemming met die grondwetlike bepalings vervat in Artikel 206 (3) van die Grondwet, wat bepaal dat elke provinsie geregtig is om die polisie se optrede te monitor en ondoeltreffendheid aan te meld.   

Die werk van die Wes-Kaapse eenheid verhinder suksesvol dat sake van die rol geskrap word en help om skuldigbevinding te bewerkstellig.  

Die DA se hof-moniteringseenheid sal optree as ‘n nie-amptelike samewerking tussen die polisie, die vervolgingsdienste en die slagoffers van plaasaanvalle. Ons sal die slagoffers van hierdie gruwelike misdade bystaan ​​deur die dikwels ongenaakbare polisie- en hofprosesse.  

Ons parlementslede en lede van provinsiale wetgewers sal optree in die beste belang van die slagoffers van plaasaanvalle ten einde die verrigtinge te vergemaklik en om ‘n optimale resultaat te bereik. Dit werk al ‘n paar jaar in die WK en daar word gereeld gesien dat aanvallers lewenslange vonnisse kry.  

Dit sal benader word as ‘n metode om die verskillende staatsentiteite, sowel as slagoffers, te help om ‘n vinnige, regverdige resultaat van enige ondersoek of vervolging te bereik.  

Ons beoog om die volgende te bereik:  

• die gedrag van die polisie te monitor; 

• die doeltreffendheid van polisiedienste te monitor; 

• goeie kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap te bevorder; 

• die effektiwiteit van sigbare polisiëring dop te hou; en 

• skakel met die skadu-kabinetslid wat verantwoordelik is vir polisiëring of vervolging met betrekking tot misdaad, polisiëring en vervolging. 

 Een van ons eie raadslede, self ‘n boer, is meer as vyf jaar gelede wreedaardig aangeval, en ondanks DNA-bewyse en eindelose hofverskynings, is die vermeende aanvaller steeds op vrye voet en woon naby haar.  

Waarom en hoe kan dit vandag in Suid-Afrika gebeur? Waarom het dit die invloed van die DA Skadu-Minister van Justisie, Advokaat Glynnis Breytenbach, geneem om te verseker dat die saak skielik op die hofrol verskyn?  

Watter kans het ‘n boer om geregtigheid te laat geskied as hy, sy gesin, ‘n plaasbestuurder, ‘n plaaswerker of ‘n besoeker aan die plaas aangeval of vermoor word? 

Met ons inisiatief vir hof-moniteringseenhede, hoop die DA om hierdie kanse te verbeter.  

Plaasaanvalle terroriseer ons landelike gebiede en solank die aanvallers met hul misdade wegkom, sal die afgryse voortduur. Met hierdie inisiatief wil die DA toesien dat misdadigers so spoedig moontlik agter tralies beland om sodoende die geweld te beëindig.  

As hoof van hierdie eenheid in Noordwes, sal ek persoonlik hulp verleen aan elkeen in die provinsie wat ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval word.  

Ek doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om die DA se webwerwe by stopplaasaanvalle.co.za of stopfarmattacks.co.za te besoek en ons ope brief aan president Ramaphosa te onderteken, waarin ons ‘n beroep op hom doen om die situasie in ons landelike gemeenskappe aan te spreek.