Naledi kragonderbrekings: Inwoners betaal die prys vir die ANC regering se mislukkings

Issued by Carìn Visser – DA Noordwes Kiesafdelingshoof, Naledi
08 Dec 2019 in Press Statements

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes is besorg oor die geskeduleerde kragonderbrekings van meer as vyf uur per dag as deel van Eskom se kredietbeheer-plan wat onlangs by die Naledi Plaaslike Munisipaliteit geïmplementeer is. Die gevolge van hierdie kragonderbrekings vir die plaaslike ekonomie is verreikend en dringende ingryping is nodig.

In ‘n poging om oplossings te vind, het ons die Administrateur van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit, Paul Maseko, LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, Gordon Kegakilwe en Premier Mokgoro, onderskeidelik gekontak, maar ons is meegedeel dat, Naledi tegnies bankrot is, en daarom kan weinig gedoen word om die ligte aan te hou.

Die R5 miljoen wat op die uitstaande Eskom-rekening betaal is, was onvoldoende om die ooreengekome paaiement te dek en maak nie ‘n duik in die bedrag van R290 miljoen wat verskuldig is nie.

Hierdie krisis kan toegeskryf word aan swak finansiële beplanning, korrupsie, swak inkomste-insameling, ‘n gebrek aan konsekwensiebestuur en geen aanspreeklikheid vir onderpresterende munisipale amptenare nie.

Inkomste-invordering is steeds een van die dringendste kwessies en kontantvloei-beperkings kan aansienlik verbeter word deur maatreëls in te stel om die skokkende uitstaande skuld wat tans R308 miljoen beloop, in te vorder.

Die 3000 RDP-huise wat in uitbreidings 25 en 28 van Huhudi gebou is, dra by tot die swak invordering van inkomste. Hierdie huise is na bewering nie op die munisipale inkomstestelsel geregistreer nie en het daarom sedert 2009 nie ‘n sent betaal nie.

Daar word verder beweer dat Khotso Khasu Ingeneurs, die kontrakteurs wat hierdie huise in 2009 gebou het, ‘n groot bedrag van R800 miljoen gebuit het uit die projek.

Hierdie munisipaliteit is agterstallig met derdepartybetalings, belastingbetalers kry geen dienste nie en infrastruktuur val uitmekaar en dit terwyl niemand aanspreeklik gehou word nie.

Die ingryping van die provinsiale regering ingevolge Artikel 139 (1) (b) in 2018 was ‘n bietjie te laat; ingryping moes jare gelede reeds plaasgevind het toe die eerste tekens van wanadministrasie aan die lig gekom het.

As daar nie dringend opgetree word nie, sal inwoners sonder water gelaat word, wat om die beurt verdere druk op die reeds vervalle rioolstelsel sal plaas.

Ons doen daarom ‘n beroep op Premier Mokgoro om dringend ‘n plan van aksie aan te kondig vir alle munisipaliteite wat nie hul uitstaande Eskom skuld kan betaal nie.

Die DA verwerp ten sterkste enige maatreël wat poog om die mense te straf vir die swak bestuur van die ANC. Dit is ongrondwetlik en oneties dat Eskom voortgaan met die ontkoppeling van elektrisiteitstoevoer na betalende verbruikers.

Die rede waarom munisipaliteite Eskom gesamentlik meer as R1 miljard skuld, is nie die skuld van inwoners nie.

Die DA sal aanhou veg vir goeie bestuur binne munisipaliteite om te verseker dat elke inwoner toegang tot behoorlike dienslewering het.