DA eis dringende optrede nadat Noordwes Landbou-LUR boere in die steek laat tydens Bek-en-klouseer-uitbreking

Issued by Jóhni Steenkamp – DA woordvoerder van Landbou in Noordwes
16 Jan 2026 in Press Statements

Nota aan Uitsaaiers: Sien asseblief die aangehegte klankgreep in Engels en Afrikaans deur Jóhni Steenkamp.

Boere regoor die Noordwes-provinsie word blootgestel en in die steek gelaat deur die provinsiale Departement van Landbou tydens die voortgesette uitbreking van Bek-en-klouseer.

Terwyl die Minister van Landbou op nasionale vlak daadwerklik opgetree het om die situasie te stabiliseer en ’n nasionale reaksie uiteen te sit, het die Noordwes-Landbou-LUR, Madoda Sambatha, versuim om boere van ’n duidelike provinsiale implementeringsplan of betekenisvolle betrokkenheid te voorsien. Hierdie gebrek aan leierskap skep onsekerheid op ’n tyd wanneer beslissende koördinering en gerusstelling dringend nodig is.

Die gevolge van hierdie versuim word reeds gevoel in veeboerdery-afhanklike distrikte soos Dr Ruth Segomotsi Mompati, Ngaka Modiri Molema en Bojanala Platinum, waar die beweging van diere moeilik is om te monitor en veeartsenykundige kapasiteit beperk is.

Alhoewel entstofverkryging en nasionale beleidsrigting by die nasionale regering berus, hang die sukses van Bek-en-klouseer-inperking grootliks af van provinsiale uitvoering. Dit sluit in:

  • Die aanwysing en bestuur van Bek-en-klouseer-beheerde of Bek-en-klouseer-vrye abattoirs om voortgesette slagting en marktoegang te verseker;
  • Streng afdwinging van bioveiligheid by abattoirs, voerkrale, en veilings;
  • Gekoördineerde en afdwingbare beheer oor die beweging van diere binne en tussen distrikte; en
  • Gereelde, duidelike kommunikasie met boere en rolspelers in die bedryf.

Tot op hede is daar min bewyse dat hierdie verantwoordelikhede in die Noordwes nagekom word.

Van ernstige kommer is die provinsie se oënskynlike gebrek aan gereedheid om massainenting te implementeer sodra dosisse beskikbaar raak. Daar was geen openbare aanduiding van:

  • ’n Gekonsolideerde provinsiale register van staats-, privaat- en gekontrakteerde veeartse wat onmiddellik ontplooi kan word nie;
  • ’n Gekoördineerde plan om veeartsenykundige kapasiteit oor landelike distrikte soos Dr Ruth Segomotsi Mompati en Ngaka Modiri Molema te mobiliseer nie; of
  • Voorafbeplanning om hanteringskrale aan te koop en te posisioneer wat nodig is vir veilige, doeltreffende inenting en monitering ná inenting.

Die afwesigheid van hierdie fundamentele operasionele komponente kan vertragings in die aflewering van entstowwe of ongelyke implementering veroorsaak, veral in afgeleë en hoërisiko-gebiede.

Die Noordwes is ’n hoërisiko-provinsie vir Bek-en-klouseer, en in die afwesigheid van sterk provinsiale koördinering bestaan daar steeds onsekerheid oor wettige slagpunte, bioveiligheidstandaarde en beheer oor die beweging van diere. Hierdie onsekerheid ondermyn nasionale siektebeheer-pogings en stel boere, voedselsekerheid en die provinsiale veeboerdery-ekonomie in gevaar.

Die Demokratiese Alliansie eis daarom dat die Noordwes-Landbou-LUR:

  1. Onmiddellik ’n duidelike, provinsie-spesifieke Bek-en-klouseer -implementeringsplan publiseer wat met die nasionale strategie belyn is; en
  2. Gereelde distriksvlak-inligtingsessies met boere en rolspelers belê, ondersteun deur skriftelike riglyne.

Boere verdien duidelikheid, leierskap en ondersteuning — nie stilte nie.

Die DA sal voortgaan om saam met Noordwes-boere te staan en sal die provinsiale regering meedoënloos tot verantwoording roep waar dit versuim om lewensbestaan, voedselsekerheid en die landbou-ekonomie te beskerm.