DA versoek onmiddellike ingryping van nasionale en provinsiale regering ná grusame Reivilo-plaasmoord

Issued by Carin Visser LP – DA Nasionale Raad van Provinsies, Landbougrondhervorming en landelike ontwikkeling
10 Nov 2023 in Press Statements

Nota aan uitsaaiers: Vind asb. gekoppelde klankgrepe in Afrikaans en Engels deur Carin Visser LP.

Die DA veroordeel die moord op Anita Clapton (68) en die aanval op haar man, Frik Clapton (75), op ‘n plaas buite Vryburg in die Reivilo-distrik vroeg vanoggend, 10 November 2023. Mnr. Clapton, word tans vir ernstige beserings in die Vryburg-hospitaal behandel.

Die onbekende getal misdadigers het toegang tot die egpaar se huis verkry deur die veiligheidshek met ‘n tang oop te breek waar hulle die egpaar oorval het en met ’n onbekende voorwerp geslaan het en daarna met mnr. Clapton se wit Ford Ranger-enkelkajuitbakkie gevlug het. Die bakkie is later verlate in Kuruman gevind.

Dié plaasaanval kom ná verskeie aangemelde voorvalle regoor Noordwes en Suid-Afrika sonder enige ingryping van die provinsiale of nasionale regering en nadat president Cyril Ramaphose die DA se formele versoek om ‘n Kommissie van Ondersoek na plaasaanvalle en -moorde, wat tussen Mei en Julie 2023 ingedien is, te stig, geïgnoreer het.

Die DA wil graag ons innige meegevoel aan die familie van mev. Clapton betuig en hoop vir ‘n spoedige herstel vir mnr. Clapton.

Die DA sal ‘n petisie by die nasionale raad van provinsies indien wat op die volgende ingryping aandring:

• Voldoende hulpbronne moet beskikbaar gestel word aan die SAPD, soos vervoer;

• meer fondse moet bestee word aan die opleiding van gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede;

• die vestiging van landelike polisiëringsektore. Polisiesatsies wat ’n bepaalde landelike gebied dien, moet toegewyde landelike sektore skep as deel van sy sektorpolisiëringstruktuur en plan; en

• die skepping van programme om verhoudings tussen die SAPD en privaatsekuriteitsfirmas te verbeter om sodoende alle hulpbronne bymekaar te bring om landelike misdaad te voorkom en te bekamp.

Die DA sal nie rus totdat die nasionale en provinsiale regering verantwoordelikheid neem vir die veiligheid van landelike gemeenskappe nie.