800 000 Noordwes inwoners moet hierdie naweek registreer om DA te stem

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
14 Nov 2023 in Press Statements

Vind asseblief onder die korrekte verklaring.

Nota aan Uitsaaiers: Vind aangehegte klankgreep in Afrikaans deur Leon Basson LP

Die DA doen ‘n beroep op alle ongeregistreerde Noordwes-kiesers wat Suid-Afrika en ons provinsie lief het om van die OVK se Registrasienaweek, eerskomende Saterdag en Sondag, 18 en 19 November 2023, gebruik te maak om te registreer om DA in volgende jaar se verkiesing te stem.

Meer as 800 000 Noordwes inwoners wat stemgeregtig is, het nog nie geregistreer om te kan stem nie. Jou stem kan die verskil maak om ‘n DA-geleide regering te verkies wat kan begin om te herbou wat die ANC in Noordwes vernietig het en Suid-Afrika van algehele ineenstorting te red.

Dit is nou of nooit, dit is maak of breek vir Suid-Afrika in 2024. In 1994 het ons vir grondwetlike demokrasie en die belofte van voorspoed, gelykheid en vryheid gestem. Volgende jaar moet ons stem om ons pragtige land te red van die mislukte ANC-regering wat die opkoms van ‘n kriminele aanslag op wetsgehoorsame landsgenote, en ‘n toename in werkloosheid, armoede en ongelykheid te weeg gebring het.

Terwyl mense elke dag sukkel om hul gesinne te voed, om hul kinders skool toe te stuur, om toegang tot kwaliteit gesondheidsorg te kry en om in veilige gemeenskappe te woon, gaan die ANC-regering voort om al ons pogings om ‘n beter lewe te bou af te breek deur korrupsie, bedrog en diefstal wat daartoe lei dat Noordwes-munisipaliteite in duie stort en inwoners sonder enige basiese dienslewering gelaat word.

Nie ‘n enkele Noordwes-munisipaliteit is ten volle funksioneel nie. Byna elke munisipaliteit in hierdie provinsie het onder die ANC se toesig ineengestort. Ons almal sukkel om toegang tot skoon water en betroubare elektrisiteitsvoorsiening te kry. Ons geniet nie voldoende sanitasiedienste, vullisverwydering of paaie-instandhouding nie.

Die Noordwes Provinsiale Regering het ook misluk. Skole val uitmekaar, klinieke en hospitale ly tekorte aan personeel, toerusting en medisyne en ons word toenemend die slagoffer van geweldsmisdaad. Terwyl besighede uit hierdie provinsie disinvesteer as gevolg van ‘n ineenstorting van munisipaliteite en swak dienslewering, groei die provinsiale werkloosheidsyfer steeds.

Genoeg is genoeg.

Ongeregistreerde kiesers kan nie meer bekostig om die ineenstorting in Noordwes van die kantlyn af waar te neem nie. Ons moet almal saam ‘n standpunt inneem. Terwyl dinge in Noordwes somber en neerdrukkend lyk, het ons hoop. Daardie hoop lê in elke kieser se hande. Registreer die naweek om DA te stem want net die DA kan herbou wat die ANC vernietig het. Slegs ’n DA nasionale regering kan Suid-Afrika red in 2024.

Die is nie leë beloftes nie, maar ‘n verbintenis gebaseer op ons geloofwaardige rekord in die Wes-Kaap. Waar ons 98 uit elke 100 nuwe werksgeleenthede in die land skep, waar ons veilige gemeenskappe bou deur ons plaaslike wetstoepassingsprogram (LEAP) wat 500 000 wetstoepassingsoperasies in ‘n enkele jaar uitgevoer het wat tot meer as 9 000 arrestasies gelei het, waar ons skole kwaliteit onderwys lewer en ons openbare hospitale veilig en skoon is en die beste mediese sorg bied op gelyke voet met die private sektor.

Die DA is gereed om dieselfde in Noordwes te doen. Saam kan ons wen. Saam kan ons herbou. Saam sal ons Suid-Afrika red.