DA se regspan lewer finale aanmaningsbrief aan Eskom om elektrisiteitstoevoer na Lichtenburg te hervat

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
14 Aug 2023 in Press Statements

Nota aan Uitsaaiers: Vind aangehegte klankgreep in Afrikaans deur Leon Basson LP

Die DA in Noordwes se regsverteenwoordigers het ‘n finale aanmaningsbrief aan die Eskom gelewer om onmiddellik die voorsiening van grootmaat-elektrisiteit in Lichtenburg te hervat. Sien brief hier.

Ons waardeer die ondersteuning van die Ditsobotla Dienste-vereniging wat aangesluit het by ons dringende aansoek tot die hooggeregshof vir onmiddellike verligting teen Eskom se onwettige besluit om inwoners en besighede van hul grondwetlike reg tot toegang tot elektrisiteit te ontneem.

Inwoners van Lichtenburg verduur al 19 aaneenlopende dae sonder betroubare elektrisiteitstoevoer nadat ‘n spantoring op 27 Julie 2023 omgeval het en ‘n transformator gevandaliseer is.

Eskom het gepoog om die transformator te vervang en die werk is op Donderdag, 10 Augustus 2023 voltooi, maar Eskom het toe opportunisties gekies om die desperate situasie wat inwoners vir meer as twee weke moes verduur, te misbruik as ‘n skuldinvorderingsmeganisme teen die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit se R1 miljard skuld.

Ons doen ‘n beroep op Eskom om rede te sien en onmiddellik elektrisiteitstoevoer te hervat of die entiteit sal ‘n nederlaag in die hooggeregshof in die gesig te staar.

Ons verstaan die woede en frustrasie van alle geaffekteerde inwoners. Ons regsverteenwoordigers is opdrag gegee om hierdie aansoek so ver as redelik en wetlik moontlik te bespoedig om te verseker dat ons namens alle geaffekteerde inwoners verligting kry van Eskom se onwettige besluit en onetiese gedrag.