DA herhaal beroep vir landelike veiligheidsplan ná Schweizer-Reneke-plaasaanval

Issued by Carin Visser LP – DA Kiesafdelingshoof, Mamusa plaaslike munisipaliteit
08 Jun 2023 in Press Statements

Nota aan Redaksie: Vind asseblief aangehegde klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Carin Visser LP.

Die DA in Noordwes veroordeel die aanval vandeesweek op mev. Huibrey Kotze op haar plaas buite Schweizer-Reneke.

Mev. Kotze het die aanval oorleef, maar het beserings opgedoen van aanranding met ‘n soliede stuk yster. Haar dapperheid en haar vermoë om helder te dink tydens hierdie aanval het haar laat ontsnap nadat sy die twee misdadigers in die kamer toegesluit het.

Mev. Kotze se vinnige denke het gemaak dat sy na veiligheid ontsnap en noodbystand van bure en die SAPD ontbied het. Een van die misdadigers is later in hegtenis geneem terwyl die ander op vrye voet is.

Boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe behoort nie gewelddadige beproewings soos hierdie te verduur nie. Daar is geen plek vir hierdie brutaliteit in ons gemeenskappe nie. Dat landelike gemeenskappe in vrees bly leef vir die voortdurende bedreiging van gewelddadige aanslag, is onaanvaarbaar.

Elke plaasaanval is ‘n aanval te veel en is ‘n aanklag van die SAPD se onvermoë om die veiligheid van landelike inwoners te verseker. Alhoewel daar toegewyde polisiebeamptes is wat hul lewens op die spel plaas om die gemeenskap te dien en te beskerm, word hulle in die steek gelaat deur die gebrek aan hulpbronne tot hul beskikking om misdaad doeltreffend te voorkom en te bekamp.

Dié Scweizer-Reneke-plaasaanval volg op ‘n bloedige naweek van plaasmoorde in Limpopo en die Wes-Kaap. Elke plaasmoord ruk gesinne en gemeenskappe uitmekaar en laat ’n blywende trauma agter na.

Die DA het herhaaldelik gevra vir die herinstelling van voldoende, opgeleide en gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede om die geweldsmisdaad waaraan landelike gemeenskappe onderwerp word, te voorkom. Ongelukkig het die minister van polisie, Bheki Cele, en die hele ANC nasionale regering niks gedoen om die gewelddadige aanslag wat boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe elke dag in die gesig staar, te voorkom en te beveg nie.

In ooreenstemming met die DA se kongresresolusie om gewelddadige landelike misdaad en plaasaanvalle te beveg, het ons nou ook aan president Cyril Ramaphosa geskryf om ‘n spesiale kommissie van ondersoek te stig na die meedoënlose golf van wrede geweld wat landelike gemeenskappe regoor Suid-Afrika verduur.

Daar is geen twyfel dat hierdie kommissie van ondersoek dieselfde aanbevelings sal maak as waarvoor die DA lank reeds vra. Plaasaanvalle moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Voldoende hulpbronne moet beskikbaar gemaak word en opgeleide gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede moet heringestel word. Hierdie eenhede moet toegerus word met die tegnologie, voertuie en mannekrag om landelike misdade doeltreffend te voorkom en daarop te reageer, om lewens te red en eiendom te beskerm.

Die DA sal nie rus voordat elke boer, plaaswerker en elke landelike gemeenskap veilig voel en hul lewens en eiendom beskerm word teen die kriminele aanslag wat veroorsaak word deur die ANC nasionale regering se weiering om mense se desperate krete om hulp te erken en om hul basiese mense regte tot veiligheid, sekuriteit en voorspoed te verseker nie.