Nie ’n druppel water vir Tosca-inwoners

Issued by Rdl. Nicol Muller – DA Koukusleier: Kagisano Molopo Plaaslike Munisipaliteit
19 Jan 2023 in Press Statements

Nota aan Redaksie: Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep in Afrikaans deur Rdl. Nicol Muller.

Die DA in die Kagisano Molopo Plaaslike Munisipaliteit is bekommerd oor die Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit se onbevoegdheid en onvermoë om watervoorsiening aan Tosca-inwoners te verseker.

Watertoevoer na Tosca is baie wisselvallig, terwyl sommige dele vir tot ses weke lank nie ‘n enkele druppel water ontvang het nie. Die DA werk dag en nag om die distriksmunisipaliteit sover te kry om watertoevoer te herstel.

Eskom se deurlopende kragonderbrekings speel ’n beduidende rol in die gebrek aan watervoorsiening, terwyl die distriksmunisipaliteit ’n magdom verskonings het om desperaat te probeer die gebrek aan water te regverdig. Verskonings wissel van ’n tekort aan diesel om pompstasies te bedryf tot ongemagtigde drinkgate vir diere.

Die DA sal aan die Menseregtekommissie skryf en ‘n ondersoek versoek na Dr Ruth Segomotsi Mompati se versuim om watervoorsiening te verseker, en om die distrik te verplig om onmiddellik maatreëls in te stel om die krisis te verlig terwyl ‘n permanente oplossing gevind word.

Meer as 1 000 inwoners in die informele nedersetting Tosca moet ‘n 2 000 liter-tenk met een kraan vir water deel, terwyl geen voorsiening gemaak word om water aan bestaansboere vir hul beeste en gewasse te verskaf nie.

Besighede sukkel om goedere en dienste te lewer. Die Tosca Gastehuis moes bedrywighede staak omdat hulle nie beddegoed kan was, maaltye kan voorberei en gaste nie kan bad nie.

Die DA het die distriks munisipale bestuurder, Itumeleng Jonas, en die burgemeester, Maje Sense, in kennis gestel dat hulle ‘n sterk, maar verlate, derde boorgat, wat in die verlede gebruik is, in werking moet stel, maar geen stappe is geneem om dit te oorweeg as ‘n oplossing om die waterskaarste in Tosca te probeer verlig nie.

Daarbenewens het ons aan Noordwes Premier, Bushe Maape, en die LUR van COGHSTA, Nono Maloyi, geskryf en ‘n dringende ingryping versoek om watertoevoer te herstel. Ongelukkig val die pleidooie van die gemeenskap steeds op dowe ore.

Dit is ondraaglik dat die ANC-beheerde regering die basiese waterbehoeftes van ‘n hele plattelandse gemeenskap heeltemal kan verontagsaam. Daar is ‘n totale gebrek aan empatie van die ANC, miskien omdat hulle nie die vernedering verduur wat met ‘n gebrek aan water gepaard gaan nie. ANC-burgemeesters, premiers, LUR’e en amptenare leef gemaklik in weelde met toegang tot skoon water terwyl gewone inwoners desperaat bly vir ‘n druppel water om te drink in die middel van ’n hittegolf.