Verwoestende brand in Delareyville ‘n direkte gevolg van mislukte ingryping in NW-munisipaliteite

Issued by Carìn Visser LP – DA NCOP lid van die Noordwes Ad-Hoc Komitee oor Artikel 100-intervensie
14 Jun 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA NCOP-lid van die Noordwes Ad-Hoc Komitee oor Artikel 100-intervensie, Carìn Visser. 

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA), Nkosazana Dlamini-Zuma, skryf en haar versoek om dringend aandag te gee aan die swak instandhouding van elektrisiteitsinfrastruktuur in die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, sowel as hul jarelange oortreding van rampbestuurregulasies.  

Dit volg nadat ‘n verwoestende brand, veroorsaak deur ‘n elektriese fout, Sanet Venter, ’n inwoner, se huis Sondag vernietig het. (Sien foto’s hier en hier)  

Die DA het die owerhede in die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit lank reeds gewaarsku dat dringende stappe gedoen moet word om te verseker dat alle munisipaliteite onder sy kuratorskap toegang tot ‘n brandweerstasie het, maar dit was tevergeefs.  

Die feit dat die Provinsiale Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (COGHSTA) ingevolge Artikel 100(1)(b) onder administrasie is, het geen positiewe uitwerking gehad op dienste wat deur munisipaliteite soos Tswaing, wat swak presteer, gelewer word nie.  

Tydens die Minister se verskyning voor die Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) se Ad-Hoc-komitee oor Artikel 100-ingryping verlede week, het sy bloot haar skouers opgetrek oor die voortslepende faksiegevegte onder ANC-lede binne munisipaliteite, wat een van die hoofoorsake van swak dienslewering is.  

Sedert die aanvang van hierdie ingryping in 2018 het die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit geen pogings aangewend om die elektriese infrastruktuur te herstel en in stand te hou nie, wat gelei het tot die onbetroubare kragtoevoer wat inwoners daagliks moet verduur.  

Die konstante, oneweredige kragstuwings beskadig verbruikers se elektriese toestelle en het uiteindelik tot die brand gelei wat Mevrou Venter se huis vernietig het.  

Die DA beklemtoon weer dat die gebrek aan kwaliteit kragvoorsiening deur munisipaliteite aan betalende verbruikers ‘n skending van hul grondwetlike regte is en dat dit as ‘n misdaad bestempel moet word.  

Die DA wens Mevrou Venter alle sterkte toe ná so ‘n geweldige verlies en sal die verwikkelinge monitor om te verseker dat die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit sy verantwoordelikhede teenoor inwoners nakom.