DA lê strafregtelike klag teen NW Gesondheid vir die nie-nakoming van regulasies by die JB Marks Ambulansbasis

Issued by Gavin Edwards LPW – DA Noordwes Woordvoerder oor Gesondheid
09 Jun 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA Noordwes-woordvoerder oor gesondheid, Gavin Edwards.  

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal strafregtelike klagte indien teen die Departement van Gesondheid se Administrateur, Jeanette Hunter, LUR, Madoda Sambatha, die Departementshoof, Obakeng Mogale, en die Stasiebestuurder, Solly Klaassen, weens die versuim om bedryfspermitte vir ambulanse by die JB Marks Ambulansbasis in Potchefstroom te bekom.  

Tydens ‘n toesiginspeksie deur die Provinsiale Wetgewer se Portefeuljekomitee vir Gesondheid, is bevind dat al die ambulanse en reaksievoertuie sonder operasionele permitte is.   

Dit is ‘n oortreding van die Nasionale Gesondheidswet, 61 van 2003, wat bepaal dat “‘n persoon, organisasie of staatsorgaan nie sonder die nodige lisensie die dienste van ‘n nooddiens mag vestig, beheer, verander, hernoem, tydelik of permanent hervestig of verander nie.”  

Die Ambulansbasis kon nie die inspeksie verlede jaar slaag nie en het tot op hede nog geen pogings aangewend om die situasie te verbeter nie.  

Gevaarlike afval word nie korrek weggegooi nie (sien foto hier), wat beteken dat die ambulansbasis ook nie voldoen aan die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur en Afvalbeheer nie.  

Die norme en standaarde om suurstof in ‘n geïsoleerde gebied te dekanteer, is ook buite rekening gelaat, aangesien dit in die liasseringskamer gedekanteer word (sien foto hier). Suurstof is uiters vlambaar, wat in die geval van brand alle lêers kan vernietig en die lewens van werknemers kan bedreig.  

Die DA het by verskeie geleenthede sy kommer uitgespreek oor die algehele minagting van ambulans- en Nooddiensteregulasies in Noordwes teenoor LUR Sambatha en Administrateur Jeanette Hunter, maar wag steeds dat aksie geneem word.   

Die versuim van die Departement om die nakoming van regulasies te verseker, word as ‘n strafregtelike oortreding beskou en is by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete van hoogstens R500 000 of gevangenisstraf van hoogstens vyf jaar.  

Die DA sal die situasie monitor om te verseker dat die inwoners van Noordwes die mediese dienste ontvang waarop hulle grondwetlik geregtig is.