Nasionale ingryping benodig nadat LUR Kegakilwe die mense van Tswaing in die steek laat

Issued by Carin Visser – DA Noordwes Kiesafdelingshoof, Tswaing Distrik
17 Feb 2020 in Press Statements

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes is bekommerd oor die voortdurende stakings en protesoptogte in die dorpe van Sannieshof, Delareyville en Ottosdal. Dit nadat die LUR vir Samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (COGHSTA), Gordon Kegakilwe, die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit vandeesweek besoek het in ‘n poging om die voortgesette staking deur munisipale werkers op te los.

Die feit dat slegs ANC-raadslede na hierdie vergadering genooi is, spreek boekdele van die gebrek aan politieke wil om uitdagings binne die raad aan te spreek, sowel as die impak wat dit op inwoners het.

Die staking spruit uit die munisipaliteit se versuim om die afgelope twee jaar werknemers se derdeparty-aftrekkings aan die pensioenfonds oor te betaal. Die wanbetaling het nou ‘n groot uitwerking op dienslewering deur die munisipaliteit, wat reeds uiters swak is.

Inwoners is sonder water, elektrisiteit en ander noodsaaklike dienste gelaat. Die lisensiekantore is gesluit en nie eens die munisipale bestuurder, Isaac Moruti, is in sy kantoor te vinde nie.

Die LUR se besluit om die administrateur, Tiro Mose, vir vier dae te skors, dui duidelik op sy gebrek aan nugtere oordeel en ontbloot die diepgewortelde faksionalisme in die ANC.

Hierdie munisipaliteit is in 2018 ingevolge Artikel 139(1)(b) onder administrasie geplaas weens die wanbestuur deur die munisipale bestuurder. Dit is dus ondenkbaar dat die LUR die administrateur sou skors en die munisipale bestuurder, wat verantwoordelik is vir die ineenstorting van hierdie munisipaliteit, aan die stuur van sake sal laat.

Die DA het versoek dat ‘n raadsvergadering binne die volgende sewe werksdae belê sal word in ‘n poging om oplossings te vind vir die ernstige uitdagings binne hierdie munisipaliteit.

Ons sal verder aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, skryf om dringende aksie te versoek, aangesien LUR Kegakilwe duidelik sy pligte versuim het.

As deel van ons plig teenoor die burgers van Tswaing, sal ons voortgaan om te veg vir eerlike bestuur en dienslewering waarop die mense grondwetlik geregtig is.