DA eis dringende optrede na JB Marks Speaker versuim om spesiale Raadsvergadering te belê

Issued by Chris Hattingh – DA Noordwes Kiesafdelingshoof, JB Marks
29 Nov 2019 in Press Statements

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die JB Marks Munisipaliteit in Potchefstroom het sy kommer en verontwaardiging uitgespreek nadat dit aan die lig gekom het dat die JB Marks Speaker, KEG Mogoeemang, alreeds vir meer as 10 dae ń dringende brief vanaf die LUR vir Koöperatiewe Bestuur van Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, Gordon Kegakilwe, gerig aan die Raad, vanaf raadslede weerhou. (Brief aangeheg)

In die skrywe, gedateer 19 November 2019, gee die LUR ‘n direktief aan die Raad om dringend ’n Spesiale Raadsvergadering te belê waartydens beweerde wetsoortredings deur die Uitvoerende Burgemeester, Khotso Khumalo, bespreek moet word.  Die Speaker word ook aangesê om tydens die raadsvergadering ‘n komitee aan te stel wat die verbreking van die Gedragskode vir Raadslede deur Khumalo moet ondersoek.

Die aangeleentheid spruit onder meer voort uit die beweerde onregmatige onttrekking en besteding van openbare fondse uit ‘n JB Marks Trust rekening wat na bewering by plaaslike regsfirma, naamlik Willem Coetzee Prokureurs gehou word.

‘n Spandabelrige besoek aan die jaarlikse Durban July perdewedren, onder die vaandel van ‘n skakelings- en bemarkingsaksie is ondermeer direk uit hierdie publieke fondse, wat vir die Raad in trust gehou is, befonds.

Die DA het reeds op 12 Augustus 2019 ‘n klagte hieroor by die Spesiale Ondersoek Eenheid (Valke) ingedien.

Die LUR verwys in sy skrywe ook direk na opdragte van ‘n meneer CP Henry, ‘n direkteur in die Munisipaliteit, wat geskrewe opdragte gegee het dat  sekere betalings uit die trustrekening gedoen moes word. Ook, in die verband, gee die LUR opdrag dat die  die optrede van Mnr Henry ondersoek moet word.

Die weerhouding van belangrike inligting vanaf Raadslede, veral waar dit finansiële en regsimplikasies inhou het klaarblyklik nou ‘n standaard praktyk in die JB Marks Munisipaliteit geword.

Die wyse waarop die Speaker die direktief gerig aan die Raad hanteer, is ‘n bevestiging van hierdie praktyk en versterk persepsies dat daar individue in die Raad is wat toenemend openbare finansies bestuur op ‘n wyse wat herinner aan ‘n misdadige kartel met ‘n totale afwesigheid van vernatwoordbaarheid aan die raad en die algemene publiek.

Die prima facie getuienis oor hierdie aangeleentheid, waarna die LUR ook in sy direktief verwys, ondersteun deur  die versuim van die Speaker om dringend ‘n Spesiale Raadsvergadering byeen te roep,  noodsaak die DA om nou op die onmiddelike skorsing van die Uitvoerende Burgemeester aan te dring hangende die ondersoek van die komitee.

Die wye betrokkenheid van amptenare in die wanaanwending van fondse dui op ‘n moontlikheid van inmenging in die ondersoeke wat alreeds aan die gang is, en ook wat nog moet volg.

Die DA het reeds vanoggend ‘n skrywe op die Speaker beteken en sal later vandag oor verdere optrede besluit, wat moontlik ook ‘n ondersoek na die moontlike pligsversuim deur die Speaker mag insluit.

Die DA sal ook hierdie gedrag aan die Valke, wat reeds die bewerings ondersoek, deurgee sodat daar ondersoek ingestel kan word na alle persone wat aktief en passief meewerk om te verhoed dat die waarheid openbaar word en hulle die geleentheid gebied kan word in die hof om hulle optrede te verduidelik.