Petisie om paaie in Matlosana the prioritiseer

Issued by Jacky Basson – DA Raadslid, Matlosana Plaaslike Munisipaliteit
09 Oct 2024 in Press Statements

Nota aan uitsaaiers: Vind klankgrepe hierby aangeheg in Engels en Afrikaans deur Jacky Basson

Die DA in Matlosana doen by wyse van ‘n petisie ‘n beroep op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit om ‘n volskaalse oudit van die paaie te doen en om dringend die broodnodige hulpbronne toe te wys om die beskadigde paaie reg te maak, in stand te hou en op te gradeer.

Tydens ‘n onlangse munisipale burgemeester Imbizo het munisipale amptenare gesê dat paaie “nie inkomste genereer nie,” so hulle prioritiseer ander begrotingskwessies. Hulle dring daarop aan dat fondse eers verkry moet word voordat padherstelwerk kan begin.

Dit is ‘n duidelike aanduiding van swak bestuur, en die munisipaliteit se gebrek aan aanspreeklikheid teenoor sy inwoners.

Ons paaie is ‘n fundamentele openbare diens, ‘n noodsaaklikheid vir veilige vervoer, en ‘n sleutel tot ekonomiese aktiwiteite. Die gevolg van die munisipaliteit se weiering om hierdie kritieke infrastruktuur te prioritiseer, is die enigste rede waarom die plaaslike paaie nou soos ‘n hindernisbaan lyk, wat lewens in gevaar stel en voertuie beskadig.

Met die reënseisoen wat vinnig nader kom, is vinnige optrede vir padherstelwerk noodsaaklik om verdere agteruitgang te voorkom.

Die Stad Matlosana moet hierdie dringende kwessie erken en onmiddellik optree om slaggatherstelwerk te prioritiseer en ‘n voorkomende instandhoudingsplan in plek te stel.

 Die Demokratiese Alliansie (DA) in Matlosana neem standpunt in. Ons het ‘n petisie opgestel wat vir inwoners beskikbaar sal wees om te teken deur ‘n DA-inligtingstafel te besoek of enige DA-raadslid in Matlosana te kontak.

Die inwoners van Matlosana verdien paaie wat veilig, funksioneel en onderhou is.