DA Noordwes vra vir nooddroogtebystand om voedselsekerheid te beskerm

Issued by Carin Visser LP – Nasionale Raad van Provinsies: Landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling
20 Mar 2024 in Press Statements

Nota aan omroepers: Vind asseblief gekoppelde klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Carin Visser LP.

Noordwes beleef tans ’n ernstige droogte wat verder vererger word deur aanhoudende hittegolftoestande wat oeste en veebedrywighede bedreig en waterbeskikbaarheid beïnvloed.

Hierdie heersende toestande, tesame met stygende insetkoste en beurtkrag, bedreig die lewensvatbaarheid van kommersiële boerderybedrywighede en sal ’n rampspoedige impak hê op klein- en bestaansboere wat ’n geweldige bydra lewer tot voedselsekerheid en om hongersnood en wanvoeding in gemeenskappe regoor Noordwes terug te stoot.

Om voedselsekerheid te verseker en om die hele landbousektor by te staan, het die DA aan die waarnemende premier Nono Maloyi geskryf en hom versoek om die provinsie dadelik as ‘n droogte-ramp te verklaar. Sien brief aan premier hier.

Ons het verlede week ‘n mosie in die Nasionale Raad van Provinsies ter tafel gelê vir noodbystand om kommersiële, klein, opkomende en bestaansboere te ondersteun om die impak van die droogte op die landbousektor te beperk. Sien mosie hier.

Dit is noodsaaklik dat boere ondersteun word om voedselsekerheid te beskerm.

Versuim om die Noordwes-landbousektor te ondersteun, sal die hele agri-waardeketting in gevaar stel en sal werksverliese tot gevolg hê.

Kommer is onlangs in die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê oor die Noordwes-regering se versuim om boere te ondersteun tydens die uitgebreide veldbrandseisoen verlede jaar wat sowat 1,4 miljoen hektaar beweiding vernietig het, wat tot lewensverlies asook die verlies van vee en wild gelei het.

Boere is oorgelaat om self brande te bestry aangesien Working on Fire nie doeltreffend op oproepe om hulp kon reageer nie omdat die regering versuim het om die nodige hulpbronne aan die organisasie beskikbaar te stel.

Weiding kon nie ten volle herstel van verlede jaar se veldbrande nie en die heersende droogte sal die weidingsbeskikbaarheid erg beperk wat daartoe sal lei dat boere hul kuddes sal moet verklein. Boere het ook nie die finansiële vermoë om voer van ver af aan te koop en te vervoer nie.

Ons eis dat premier Maloyi, die provinsiale rampbestuursentrum saam met die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkelingskomitee die vereiste prosesse en prosedures vir ramphulp in samewerking met nasionale tesourie volg om boere te ondersteun en die impak van die droogte te beperk.

Die nodige hulpbronne vir Working on Fire moet ook onmiddellik beskikbaar gestel word soos ons vanjaar se veldbrandseisoen nader.

Boere speel ‘n belangrike rol in Suid-Afrika aangesien landbou noodsaaklik is om ekonomiese groei te ondersteun, armoede te verminder en voedselsekerheid in die land te verseker.

Noordwes-inwoners het op 29 Mei vanjaar die geleentheid om die ANC uit te skop en ’n DA-regering in te stem wat die argi-sektor sal ondersteun om voedselsekerheid te verseker deur billike toegang tot water, elektrisiteit en markte te verseker, wat voedselinflasie sal verminder en wat armoede sal terug dryf en nie net werksverliese voorkom nie, maar nuwe werksgeleenthede binne die sektor te skep en sodoende werkloosheid terug te dryf.

Bowenal, sal ons regering nie gesmeek hoef te word om op te tree en boere te ondersteun wanneer ’n ramp tref nie. Ons sal rampbestuursdienste ten volle in staat stel om doeltreffend te reageer op oproepe om hulp.