Marteling tydens Koster-plaasaanval dui dis geen gewone misdaad – spesialiseenhede moet daadwerklik intree

Issued by Leon Basson LP – DA Noordwes Provinsiale Leier
01 Oct 2021 in Press Statements

Nota aan redakteurs: Vind aangeheg ’n klankgreep in Afrikaans deur Leon Basson LP, DA Noordwes Provinsiale Leier.

Ek was tot in my wese geskok toe ek uitvind van die grusame plaasaanval in Koster. Die haatdraende wreedheid en ure lange marteling van Chris en Hesta Barnard deur drie aanvallers Woensdagnag moet veroordeel word deur alle mense wat waarde heg aan basiese menswaardigheid.

Een aanvaller het ’n wielsleutel en ’n sweep gebruik. As hierdie barbare optrede nie genoeg was nie, het die aanvallers Hesta met ’n vuurwarm yster gebrand en haar hare met ’n mes afgesny.

Hierdie tipe marteling spreek nie net van brutale misdadigheid nie, maar ook van haat teenoor mense wat in landelike gebiede woon en wat hul sweet, bloed en trane opoffer om kos op Suid-Afrikaners se tafel te sit te midde van taai en onveilige omstandighede.

Beide Chris en Hesta word in ’n hospitaal vir hul beserings behandel.

Namens die DA in Noordwes, wens ek beide Chris en Hesta alles van die beste toe op hul lang pad na herstel.

Die DA doen ’n beroep op die SAPD om alle hulpbronne beskikbaar te maak om te verseker die aanvallers word in hegtenis geneem en suksesvol vervolg.

Die DA vra al lank die nasionale regering, en spesifiek die minister van polisie, Bheki Cele, om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar sodat gespesialiseerde landelike veligheidseenhede weer op die been gebring kan word wat beskik oor die nodige toerusting, tegnologie en mannekrag om ’n einde te kan bring aan die plaag van plaasaanvalle reg oor Suid-Afrika.

Ongelukkig sit minister Cele en die hele nasionale regering op hul hande terwyl inwoners in landelike gemeenskappe onderwerp word aan die wreedste aanvalle denkbaar.

Plaasaanvalle veroorsaak ontsettende verwoesting, pyn en lyding – nie net vir die slagoffers nie, maar ook vir hul gesinne. Dit het ook ’n langdure effek op hegte gemeenskappe.

Nie net word lewens geëis nie, maar met elke wrede plaasaanval is daar al minder boere wat belê in die bewerking van die grond om kos te produseer en werk aan mense te verskaf. En dit is hoe klein, plaaslike gemeenskappe stadig versmoor onder die wolk van misdaad en ekonomiese afname.

Dit móét gestop word. Minister Cele, ons benodig nie nog beloftes nie, ons kort aksie!