Minister Dlamini-Zuma gee toe dat ANC-faksionaliteit dienslewering in NW-munisipaliteite belemmer, maar ‘sal dit daar laat’

Issued by Carìn Visser LP – DA lid van Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) se Noordwes Ad-Hoc Komitee oor Artikel 100 intervensie
02 Jun 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA lid van Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) van die Noordwes Ad-Hoc Komitee oor Artikel 100-intervensie, Carìn Visser 

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal aan die Voorsitter van die Interministeriële Taakspan (IMTT), Minister Nkosazana Dlamini-Zuma, ‘n skrywe rig om haar te vra om ‘n plan van aksie voor te lê oor hoe dienste aan munisipaliteite reg oor die provinsie herstel sal word.  

Dit volg op die verskyning van Minister Dlamini-Zuma voor die Ad-Hoc Komitee oor Artikel 100-intervensie, waar sy toegegee het dat politieke ANC-binnegevegte dienslewering binne munisipaliteite verlam, maar dat sy dit bloot “daar sal laat”.  

Haar onverskillige houding oor die watertekort, rioolprobleme en swak afvalbestuur is kenmerkend van haar hardvogtigheid, maar die feit dat haar apatie nie tot orde geroep word nie, weerspieël ook die ANC-leierskap se miskenning van die inwoners van Noordwes se lot.   

Aangesien die provinsiale regering ingevolge Artikel 100 onder die kuratorskap van die IMTT onder administrasie geplaas is, kon geen beduidende verbetering waargeneem word nie.  

Inteendeel, die ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes het van R4,5 miljard in die boekjaar 2018/19 tot R5,7 miljard in 2020/21 toegeneem. 

In die vorderingsverslag wat aan die Komitee voorgelê is, word die aanstelling van die Departementshoofde vir Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling as vordering beskou, ondanks die feit dat daar bevind is dat hierdie twee persone ondergeskik was om hierdie poste te vul.  

Die toestand van die plaaslike munisipaliteite van Kgetlengrivier, Tswaing, Ditsobotla, Ramotshere Moiloa, Ratlou, Matlosana en die distriksmunisipaliteit van Dr Ruth Segomotsi Mompati, word as kritiek gelys.  

Die Minister het toegegee dat hierdie sewe munisipaliteite in die knyp is weens die ANC-faksionaliteit, maar het geen oplossings aangebied oor hoe die onstabiliteit in plaaslike regering aangespreek sal word nie.  

Die oppergesag van die reg word geïgnoreer tot die mate waarin die howe die besluitnemers oor die lot van munisipaliteite geword het, soos in die gevalle van Tswaing en Ditsobotla, wat die IMTT se mislukking in sy ingrypings- en toesigrol duidelik vertoon.

Die IMTT se swak toesig en gebrek aan besliste ingrypings, tesame met die sistemiese verrotting van bedrog en korrupsie in die Provinsiale Wetgewer, het munisipaliteite wat reeds onderpresteer, oor die rand gestoot.  

Die doel van die intervensie was om algehele verbeterde bestuur binne provinsiale departemente en munisipaliteite te bewerkstellig om hulle in staat te stel om die dienste te lewer waartoe hulle grondwetlik verplig is.   

Gegewe die huidige toestand van die provinsiale regering, is hierdie uitslag nie bereik nie.   

Dit is nou tyd dat die ANC opsy staan sodat die DA dinge gedoen kan kry.