R16 miljoen begroot vir die Orkney EMS Training College, maar geen studente vir meer as ‘n jaar

Issued by Gavin Edwards LPW – DA Noordwes Woordvoerder oor Gesondheid
11 Jun 2021 in Press Statements

Nota aan die redaksie: vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur DA Noordwes-woordvoerder oor gesondheid, Gavin Edwards.  

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal skriftelike vrae aan die LUR vir die Departement van Gesondheid, Madoda Sambatha, rig oor die Orkney EMS Training College wat ‘n wit olifant geword het.  

Tydens ‘n toesiginspeksie deur die Provinsiale Wetgewer se Portefeuljekomitee vir Gesondheid, is ontdek dat dosente buite sit, aangesien daar geen studente is wat ingeskryf is nie.  

Een van die redes waarom daar geen studente is nie, is omdat die fasiliteit nie vir akkreditasie kwalifiseer nie en universiteite dus nie daarmee geaffileer wil wees nie.  

Die ablusiegeriewe is onbruikbaar (sien foto’s hier en hier), studenteverblyf is vervalle weens ‘n gebrek aan onderhoud en plafonne sak in (sien foto’s hier en hier). Daar is geen internetverbinding nie, wat dit vir dosente onmoontlik maak om aanlyn navorsing te doen, of e-posse te stuur of te ontvang.  

Sedert 2019 het daar nie ‘n enkele student gegradueer nie; ondanks die feit dat daar jaarliks ​​miljoene Rand toegeken word. 

Ons vind dit verder uiters onreëlmatig dat die hoof, Arthur Malgas, tans ook in die posisie van direkteur optree. Hierdeur word die onvoldoende rapporteringslyne binne die departement blootgelê wat dienslewering aan die publiek regstreeks beïnvloed.  

Dit is in die mag van die hoof om te verseker dat die kollege geakkrediteer is. Hy moet verwyder word vir die swak toestand waarin die kollege verkeer, want dit is weens sy nalatigheid.  

Die DA het voorheen al die tekort aan Advanced Life Support (ALS) paramedici en ambulansassistente in die provinsie geopper, waarna die LUR met die WNNR en ander diensverskaffers in gesprek getree het in ‘n poging om hierdie probleem op te los. Die verwagting was dat minstens een paramedikus uit elke distrik sou kwalifiseer, maar dit het nie gerealiseer nie.  

LUR Sambatha moet ‘n einde maak aan verdere vermorsing van belastingbetalers se geld en ook verduidelik waarom hierdie fasiliteit nie geakkrediteer is en gebruik word vir die doel wat dit gestig is nie – om nooddienspersoneel op te lei.