Tswaing burgemeester en haar komitee nêrens te vinde terwyl dienslewering op ‘n laagtepunt is

Issued by Raadslid Soret Viljoen – DA-raadslid: Tswaing Plaaslike Munisipaliteit
21 Oct 2020 in Press Statements

Nota aan die redakteur: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Raadslid Soret Viljoen.

Die Uitvoerende Burgemeester van Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, Lydia Malwane en haar burgemeesterskomitee, is nêrens te vinde terwyl dienslewering al hoe meer agteruit gaan.

Die grootste deel van Delareyville is sedert 21 September 2020 sonder water. Die DA en inwoners het talle klagte aan die Burgemeester, die Munisipale Bestuurder, Isaac Moruti en die Speaker, Barnie Lobelo gestuur, maar die munisipaliteit het bloot die skuld op Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit geplaas en beweer dat die distrik versuim om sy pligte om water aan inwoners te voorsien, na te kom.

Gister het die waterkrisis versprei na ander dele van Tswaing, waaronder gebiede soos Sannieshof, Ottosdal, Mofofutso, Middleton en ander omliggende dorpe. Die DA het dit aan die munisipaliteit gerapporteer, maar geen stappe is geneem om hierdie situasie te beredder nie.

Strate in Sannieshof loop oor van riool wat ‘n ondraaglike stank veroorsaak. Daar is net een rioolverwyderingsvoertuig om dienste aan meer as 400 huishoudings en ondernemings te lewer.

Vullisverwydering het tot stilstand gekom en die dorp en omliggende gebiede bedek met rommel en afval. Vullisterreine is ook nie toeganklik vir die gemeenskap nie en die omstandighede van hierdie terreine hou ‘n gesondheidsrisiko vir inwoners in.

Paaie in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal, is deurspek met slaggate weens jare se versuim om dit te onderhou of op te gradeer. Gevolglik is paai onbegaanbaar.

Die plaaslike SAPD en inwoners het ook gekla oor die gebrek aan straatligte en hoë masligte in die middedorp en omliggende gebiede, wat ‘n veiligheidsprobleem vir inwoners is. Die gebrek aan ligte maak gebiede wat vatbaar is vir kriminele aktiwiteite, soos roof en huisinbrake, ‘n maklike teiken.

Benewens al hierdie bekommernisse, is Tswaing-munisipale werkers tans in hul derde week van ‘n onbeskermde staking nadat die munisipale bestuurder 127 vakatures geadverteer het.

Die afgelope twee jaar voer werknemers ‘n stryd met die munisipaliteit om aftrekkings aan derdeparty-bydraes soos mediesefonds, Werkloosheidsversekeringsfonds en pensioenfonds oor te betaal.

Werknemers in die nood diensafdelings word nie vergoed omdat hulle op bystand is en oortyd werk nie.

Die munisipaliteit is onder enorme finansiële druk en betaal nie salarisse en skuldeisers betyds nie. Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R60 miljoen en voldoen steeds nie aan sy betalingsooreenkoms nie.

Dit is duidelik dat die munisipaliteit onder leiding van burgemeester Malwane en haar burgemeesterskomitee agteruit gegaan het en dat daar geen politieke wil is om dit te keer nie. Die uiteinde is dat inwoners aan die kortste ent trek weens ‘n totale gebrek aan dienslewering.

Die DA het met premier Job Mokgoro in gesprek getree wat sy eenheid vir vinnige reaksie na die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit gestuur het om dringend grootmaatwater in die gebiede te herstel.

Die DA werk dag en nag daaraan om die watertoevoer na alle geaffekteerde gebiede te herstel en om te verseker dat dienslewering ten volle herstel word.

Die enigste manier om Tswaing te herbou, is egter om van die ANC ontslae te raak en vir ‘n DA-regering te stem.