DA sal veg om die ligte in Lekwa-Teemane aan te hou

Issued by Raadslid Theo Gerber – DA-koukusleier: Plaaslike munisipaliteit Lekwa-Teemane
21 Oct 2020 in Press Statements

Nota aan die redakteur: Vind aangeheg klankgrepe in Engels en Afrikaans deur Raadslid Theo Gerber.

Die Demokratiese Alliansie (DA) neem kennis van Eskom se voorneme om op 30 Oktober 2020 die elektrisiteitsvoorsiening aan die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit op te skort omdat die betalingsooreenkoms van sy R45,7 miljoen-skuld nie nagekom is nie.

Hierdie voorneme om betalende verbruikers te straf vir die doelbewuste swak regeering van die ANC, is onregverdig.

Die gemeenskappe van Christiana en Bloemhof sal die swaarste getref word deur hierdie elektrisiteitsinperkings, ten spyte daarvan dat die betalingskoers in hierdie twee dorpe ongeveer 85% vir Christiana en 81% vir Bloemhof is.

Dit is onaanvaarbaar dat inwoners wat hul elektrisiteitsrekeninge betaal, nou gedwing word om elke dag tot 14 ure sonder krag te wees totdat die munisipaliteit die vereiste betalings maak.

Die munisipaliteit sou teen 2 Oktober R6,2 miljoen betaal, maar kon nie die ooreenkoms nakom nie.

Die nadelige uitwerking wat die opskorting van grootmaat-elektrisiteitsvoorsiening op ‘n reeds sukkelende plaaslike ekonomie en lewensgehalte van inwoners sal hê, is verrykend en daarom sal die DA in Lekwa-Teemane skriftelik protes hierteen aanteken.

As Eskom met hierdie kragonderbrekings voortgaan, sal besighede nie op volle kapasiteit kan funksioneer nie, wat kan lei tot verdere werkverliese en die sluiting van nog meer ondernemings.

Bejaardes en pasiënte wat van suurstofmasjiene afhanklik is, sal ook in gevaar gestel word, terwyl alle ander sosio-ekonomiese dienste tot stilstand sal kom.

Die DA sal ook met die waarnemende Munisipale Bestuurder, Thuli Mbonani en die Burgemeester, Mpho Pilane, in gesprek tree om te verseker dat hulle die ooreenkoms met Eskom nakom en onmiddellik die uitstaande betalings maak.

Die ANC is te blameer vir die korrupsie, bedrog, wanbestuur en swak dienslewering in Lekwa-Teemane en daarom kan Eskom nie betalende verbruikers hiervoor straf nie.